Monday, October 15, 2012

Aviation Medicine


Good day PASASA friends,

PASASA members attended very informative talk by Dr Chris Opperman last week 10 Oct 2012, at Kitty Hawk aero estate.

 Juanita - reports ... Find below a summary of the talk. It is my notes in Afrikaans.

"Lugvaartgeneeskunde het 'n definitiewe pre- en post 1994 aspek. Pre 1994 was die militêre gedeelte meer ivm siviel en tans is dit andersom. Die prosesse het ook verander met die CAA, wat eintlik na vliegstandaarde moet omsien, wat self die mandaat van geneeskunde ook oorgeneem het van die Instituut van Lugvaartgeneeskunde (ILG). Politiek het 'n groot invloed op die keuse van persone wat verantwoordelik is vir lugvaartgeneeskunde. Hierdie persone het nie die nodige opleiding en/of ervaring nie en gebruik dus privaat persone om te help.

Hierdie konsultante vir Die CAA se mediese afdeling (AVMED) het ongelukkig nie die nodige insig in ICAO (International Civil Aviation Organization) se standaarde nie. Die dilemma is dus dat hulle die outoriteit het maar nie vlieg verstaan nie.

Die wet tans is dat die Kommisaris van die CAA besluit of 'n persoon geskik is; tegnies, medies, ens. AVMED neem dus die besluit namens die Kommisaris. Wat nie sin maak nie is dat as jy wil appelleer, dit ook gerig word aan die Kommisaris.

Voorheen het die Burgerlugvaart paneel saam met die ILG gewerk en vliegveiligheid het alle besluite bepaal. Nou is die paneel by CAA en ILG maak nie besluite nie. AVMED is bang om besluite te neem omdat hulle nie die kennis het nie. Die konsultante wat aangestel is, is professore in hul veld, saam met die President van die SA Lugvaart en Lugruim Mediese Vereniging (SASAEM) (Dr Chris Opperman), ILG (Rob Bedford), die voormalige mediese reccies se bevelvoerder ( Chris Blundle), en noodvlugte se Ansa Joubert. Slegs Chris Opperman en Rob Bedford vlieg, geeneen van die ander nie.

Besluite word dus geneem deur persone wat nie self vlieg nie, uit 'n akademiese oogpunt en nie vanuit vliegveiligheid as fokus nie. Daar is zero insig. Vir mediese protokolle word ICAO se minimum standaarde gebruik, maar nou is SA se standaarde te hoog omdat akademici gebruik word. Organisasies soos RAASA help geweldig deur bv die klas 4 medies wat gebruik word. Ongelukkig verstaan die professore nie die verskillende klasse nie en alle vlieëniers word geoordeel asof hule verantwoordelik is vir 700 lewens.

Om 'n mediese ondersoeker te word moet 'n mediese dokter 'n 7 dag kursus met die nodige eksamen by die CAA voltooi. Om dan van 'n junior na senior ondersoeker te gaan benodig slegs 'n sekere aantal pasiënte gesien per jaar, geen verder opleiding nie. Vlieëniers soek rond na goedkoper dokters, maar dit is waarskynlik so 'n dokter wat nie die kennis van die sisteem en protokolle het nie. Probleme word soms nie opgetel nie en as die ILG dit na die CAA verwys sal hul paneel dikwels duisende Rande se ekstra toetse vereis. As die dokter die protokolle ken, kan die probleem aangespreek word, die toets herhaal word en dan weer besluit word oor die persoon se geskiktheid. Al wat die dokter hoef te doen is om te sê dat die persoon volgens protokol geskik is en die CAA kan dan nie ekstra toetse aanvra nie en ook nie die persson as ongeskik verklaar nie.

As 'n dokter dit nie weet nie verloor die vlieënier sy medies met verrykende gevolge.

As vlieënier moet jy dus die beste dokter kies, hom vertel van alle moontlike probleme wat jou medies negatief mag beïnvloed, óf kry self die protokolle van CAA se website af en laat jou dokter dit aanspreek voor jy vir jou medies gaan. (Dit is op die drop down menu links op die website onder aviation medicine. Sommige protokolle sit onder amended protocols en ander is onder DAME guide).

Dis belangrik dat jy die vorm wat ingevul word saam met hou vliegmedies reg interpreteer. Bv. As jy soms hoofpyne kry agv stres en 'n Panado sorteer dit vinnig uit, moet jy nie die boksie langs hoofpyn merk nie. Die professor kyk anders daarna. Vir hom is hoofpyn 'n migraine wat kan lei na epilepsie wat kan lei tot 'n koma, maw iets baie negatiefs. Dis belangrik dat jy daarna kyk nav vliegveiligheid.

ILG se kursusse vir geneeshere op die oomblik beteken eintlik niks omdat dit deur onervare persone aangebied word, én hul protokolle verskil van die CAA s'n omdat dit meer militêr gebaseer is.

Die SASAEM probeer dit regkry dat dokters eerste as kliniese geneesheer optree en dan na vliegveiligheid kyk. Hulle probeer dat die FAA (Federal Aviation Association) se protokolle inkorporeer word omdat dit meer liberaal is en verskille tussen 'n kommersiële- en ontspanningsvlieënier aanspreek.

Siviele vereistes moet gekommunikeer word. Verskillende orgaisasies soos Aero Club, ALPA, SASAEM, ens moet saamwerk en hul vereistes vir algemene lugvaart aan die CAA deurgee.

Onthou dat 'n vliegmediese ondersoek net vir 3 maande geldig is maw as jy die sertifikaat verloor mag die dokter dit net weer binne 3 maande uitreik. Langer as dit word die mediese ondersoek herhaal.

As jy 'n bestaande toestand het wat jou medies negatief gaan beïnvloed moet jy die protokol daarvoor volg, bewys wat daarin bewys moet word (medikasie, onder beheer, ens), en vat alles na jou dokter sodat dit saam met jou ondersoek ingestuur kan word. Dit beteken dat die diagnoserende dokter die protokol kan vervul en jy na 'n lugvaart dokter daarmee kan gaan. As jou protokol onvolledig is sal jy as ongeskik verklaar word. Maak dus baie seker. Die onus is op jou as vlieënier om seker te maak dat die dokter die protokol bevredig. Al is jou gesondheid tans uitstekend besluit AVMED volgens die protokol alleen.

Kies 'n dokter wat ook vlieg. So 'n persoon verstaan jou. Nog beter as hy 'n lid is van SASAEM.

Australië, Nieu-Zeeland, Europa en SA se protokolle is basies dieselfde. Amerika s'n verskil.

As jy 'n toestand ontwikkel wat vliegveiligheid beïnvloed moet jy volgens wet jou vliegaktiwiteit staak, CAA laat weet en dit probeer oplos. CAA sa jou onmiddelik ongeskik verklaar. Daar is twee spalt in die wet want dit is eintlik vir kommersiële vlieëniers geskryf en so 'n persoon se werkgewer sal hom in elk geval ongeskik verklaar. Maar, jou lisensie geld net as jy vlieg beoefen, moet dit dus nie aanmeld nie; sorteer dit uit terwyl jy nie vlieg nie. Die rede hiervoor is dat as jy eers ongeskik verklaar is, is dit bitter moeilik om reg te stel. As jy nie vlieg nie, is jy nie vliegaanspreeklik nie. Vra jou lugvaart dokter tydens 'n normale konsultasie wat jou opsies is, of pm Flymed op http://www.avcom.co.za/. Hy sal jou konfidensieël laat weet wat die beste roete is.

Ongelukkig sal sekere toestande jou permanent ongeskik maak, maar daar is nie 'n lys beskikbaar nie omdat dit aanhoudend aangepas word. Op die ou einde is dit die vlieënier se verantwoordelikheid om homself gesond te hou. 'n Toestand wat vroeg aangespreek word sal byvoorbeeld nie dieselfde invloed op jou geskiktheid hê as iets wat te laat gelos word nie.

Sekere medikasie is ook heeltemal ontoelaatbaar maar daar is weereens nie 'n lys nie omdat medikasie verskillende effekte op verskillende mense het.

As jy medies ongeskik is en aanhou vlieg en iets gebeur met jou, sal jou versekering nie uitbetaal nie, al het dit niks met jou toestand te doen nie, byvoorbeeld 'n "bird strike". Nog erger, jy sterf nie, maar beland in 'n rolstoel...Opsies wat hier kan help is eerstens dat jy altyd saam met 'n instrukteur vlieg. Hy is PIC ongeag van waar hy sit. Ure word dan net as dual gelog. Tweedens kan 'n safety pilot saamvlieg, maar hy moet PIC wees en links sit. Hierdie opsies sal natuurlik nie van toepassing wees in 'n multicrew vliegtuig nie.

Onthou dat die CAA die juridiese reg het om jou mediese fonds of dokter te kontak vir inligting. Om feite te weerhou sal dus nie werk nie. Volg die protokolle. Daar word ook post-mortems op slagoffers van vliegongelukke gedoen en bestaande toestande kan so gevind word wat ook 'n invloed sal hê op versekeringseise.

Met betrekking tot verskillende klasse; die dokter reik net die hoogste lisensie uit. As jou klas 2 verval na 'n jaar kan jou klas 4 nog geldig wees. As jy siek is, verval al jou lisensies. Klas 4 se onsersoeke verskil bv van klas 1 s'n, bv die insluiting van kleurblindheid toetse en Hoe dikwels 'n stres EKG gedoen moet word. Maar, laat doen dit liewer bietjie strenger as wat die wet vereis en jy kan rustiger voel. Afhangend van die klas is so 'n ondersoek 1-5 jaar geldig, maar dis eintlik net vir die oomblik korrek, want iets kan die volgende dag gebeur om dit te verander. Jy moet dus elke dag na jou eie gesondheid kyk."

You are welcome to contact Dr Chris on 0128034028 or pm him as Flymed on avcom if you have any questions not addressed above.

Thank you, and kind regards
Juanita Kruger

No comments:

Post a Comment